Aleit Apteit
AleitApteit is ’n boek gevul met stories van die geliefde Aleit Swanepoel. Kom reis en kook saam met hom met ongeveer 50 resepte uit sy pen. Die Sondagaand voor Aleit se afsterwe was hy volstoom aan die gang, besig om onder meer sy alombekende lamsboud gaar te maak. Die bestanddele is gekoop en die span was reg vir ’n week van kosmaak. Kom beleef saam die nostalgie, sy spesiale menswees en die heerlike kos wat hy nie net smullekker kon maak nie, maar ook mooi kon laat lyk: die ‘Aleit-Way’. Deel sy hartskos – veral sy Sondagmiddagetes in sy ouerhuis, net soos sy ma dit gemaak het. Dit was spesiaal vir hom, en hy wou dit graag oordra en met sy mense deel. Hy het aande gesit en skryf, en dit dan baie opgewonde aan sy span gestuur en gesê: “Julle! Ek het nog ’n storie!!” AleitApteit is ’n hoofstuk van sy nalatenskap en ’n manier waarop hy vir altyd in mense se hart, kombuis en lewe kan voortleef. Dit is ’n pragkookboek, maar ook een wat deel van jou kombuis se bestanddele moet uitmaak – gevul met bekende hartskos en bypassende stories geskryf deur ’n legende.
Onthoukos
Vir sjef Tiaan Langenegger was dit sedert sy kinderjare ’n droom om sy eie kookboek te hê. Vandat hy op dertienjarige ouderdom Jamie Oliver se eerste kookboek, The Naked Chef, gesien het, het hy geweet dit is wat hy ook wil doen – hy wil met kos werk en ’n seleb wees – dis nou voordat hy besef het wat laasgenoemde regtig behels! Na aanleiding van Tiaan se kookprogramme Tiaan onthou, Tiaan kook en Tiaan proe op kykNET en Showmax het hy baie navrae van kykers gekry oor waar hulle die resepte kan kry, en só is die idee vir sy eie kookboek gebore. Dit is geïnspireer deur sy ma en ouma se kos, en dis baie anders as wat hy jare gelede gedink het dit sou wees: Dit is meer back to basics. Hy deel ook resepte wat hy deur die jare geleer maak het waar hy in verskillende bekende restaurante gewerk het, waaronder Le Quartier Français op Franschhoek en Overture op Stellenbosch.